In werklikheid is daar nie ‘n Afrikaanse woord vir ‘n “TREMCARD” nie. ‘n Tremkaart is ‘n “transport emergency card” oftewel ‘n vervoernoodkaart. ‘n Tremkaart is ‘n dokument wat noodinligting bevat oor die skadelike goedere wat vervoer word. Hierdie kaart word gebruik deur die drywer van die voertuig en/of nooddienste in die geval van ‘n ongeluk.
Volgens die SABS 0232 (noodinligtingsisteme vir die vervoer van skadelike goedere) is dit nodig om ‘n tremkaart byderhand te hou, in ‘n voorgeskrewe bêreplek binne-in die kajuit van ‘n voertuig wat skadelike goedere vervoer. ‘n Tremkaart vir elk van die verskillende groepe items op die vrag, moet ingesluit word.
‘n Tremkaart word gedruk op ‘n A4-grootte bladsy, met rooi bande op die vertikale sye van die bladsy. Elke tremkaart moet in lyn wees met die nuutste uitgawe van die Europese Raad van Chemiese Vervaardigers Federasie (Cefic) en mag slegs in Engels gedruk word.
‘n Tremkaart word geldig geag vir ‘n periode van drie (3) jaar na die Cefic datum wat aan die regterkant onder-aan die bladsy verskyn.
NOTA: Neem asseblief kennis dat dit onwettig is om tremkaarte van hierdie webtuiste af te druk en dit sal nie geldig geag word deur verkeersdienste nie.